Jannie Frey
My naam is Jannie Frey en hierdie is my MS storie.
Ek is 22 jaar al getroud met Marlene en ons het `n seun (Dieter). My vrou is 45 en my seun 19. Ek is `n kredietbestuurder by OVK en hanteer die kredietverlening van landbouprodusente in Bethlehem, Lindley, Fouriesburg, Warden, Petrus Steyn, Paul Roux en omliggende dele. Ek ry fisies na die boere en voltooi hul kredietaansoeke, inspekteer vee, verleen krediet en vorder dit in. Ek is in beheer van die Bethlehem kredietkantoor en het tot Februarie 2020 leerling kredietbestuurders vir die Maatskappy opgelei.
Ek is no5 van 5 kinders en on swoon almal in verskillende provinsies. Oudste sus bly in Witbank, Tweede buite Pretoria( my ma woon by haar, my pa is in 1984 oorlede), Derde woon in Groot-brak en vierde sus in Lichtenburg. My skoonmoeder woon in Bethlehem sedert Januarie 2020 maar nie by ons aan huis nie
My rede vir eerste dr besoek was dat ek begin sukkel het met my spraak. Ek sou met iemand in gesprek wees en dan begin my woorde sommer in mekaar vloei tot ek begin hakkel en stilbly. Kort daarop het ek begin sukkel om kredietaansoeke te voltooi. Ek sou nie kon klaar skryf nie en my skrif sou so stadig word dat ek later soos gr1 kind skryf en dan heeltemal stop. Ek het begin Parkrun maar so baie pyn in my bene voel dat my een voet sommer vorentoe “flop”. Ek het begin van balans af wees.
Ek het die dr gaan spreek en hy het my na die Internis verwys. Ek het Februarie 2020 my eerste MRI scan gehad en die demyelination is opgemerk. Ek was gehospitaliseer en het kortisoon per drup ontvang. Verskeie bloedtoetse is gedoen. Met ontslag is ek met ysteraanvullings en nog kortisoon behandel. Paar weke later is ‘n LP Lumber puncture gedoen, weer klompie bloedtoetse en 12 Junie2020 my tweede MRI scan. Ek is verwys na die Neuroloog dr. WS van Niekerk, wie ek besoek het. Hy het klompie oefeninge gedoen, al die bloeduitslae bestudeer, baie vrae gevra, my ondersoek en my gediagnoseer met Multiple Scerosis. Hy sal verslag aan die internis stuur, wie vir my ook afskrif sal aanstuur.
Die Neuroloog het my gediagnoseer met MS en ek voel om die stadium soveel moontlike inligting te verkry.
Ek het siekverlof geneem om die Neurloog in Bloemfontein te gaan sien (Ek woon in Bethlehem) en moes my werkgewer vertel wat die dr. sê. Ek voel self baie dom en kon nie antwoord toe hulle vra of ek my werk sal kan voortdoen en of ek vorentoe nie in staat gaan wees nie. Hulle wou weet van behandeling en dit is vir my moeilik om te verduidelik dat die simptome kom en gaan en nie altyd dieselfde is nie.
Ek besef hoe gelukkig ek is dat dit nie MNS is nie maar MS.
Groete uit koue Bethlehem